Handves    

Opstal
BOEKinfo
incitatus
voorblad+
oorwegings
inhoudsopgawe
inleidend
wat nou?
belydenis
aanhalings
VOLKEREG
Regsargumente
KGS Mandaat
Quo Vadis?
HANDVES

English home

(in Visies van Vryheid as Hoofstuk 7)


Handves van die Regte

van die Boerevolk van Suid-Afrika

Artikel 1

Die Boerevolk is ’n volk in eie reg en maak daarkragtens, soos ander volke die wêreld oor, aanspraak op erkenning as volwaardige internasionale regspersoonlikheid

 Artikel 2

Die Boerevolk eien vir homself die reg op territoriale selfbeskikking toe, nl. as ’n onvervreembare reg wat sy fundamentele vryheid konstitueer, soos in die Volkereg omskryf

 Artikel 3

Die Boerevolk dring daarop aan om homself op sy eie grondgebied te regeer, om insgelyks vryelik sy eie ekonomiese, sosiale, kulturele en geestelike ontwikkeling te bepaal 

Artikel 4

Die Boerevolk aanvaar as reg en plig om homself positief as Die Boerevolk te identifiseer, om homself as unieke volksgroep te herbevestig, om sy tradisionele lewenswyses na eie goeddunke te bewaar en ontwikkel, asook om sy eie kultuur, geskiedenis, taal, godsdiens en gewoontes te bepaal en oor te dra, te bestudeer en leer ken, te bewaar en ontwikkel 

Artikel 5

Die Boerevolk eien vir homself die reg op onafhanklike staatskap toe, wat insluit die oprigting van ’n eie verteenwoordigende grondwetgewende liggaam en gepaardgaande uitvoerende staatstrukture 

Artikel 6

Die Boerevolk pleit dat die huidige Suid-Afrikaanse owerhede hierdie regte ten volle sal erken en onderhou, en vermaan alle gesaghebbers om die beginsel van die territoriale integriteit van die RSA-eenheidstaat nie eensydig aan te wend as verskoning om die implementering van hierdie selfbeskikkingsreg t.o.v. die Boerevolk verder te vertraag of te verhinder nie 

Artikel 7

Die Boerevolk eis dat die Suid-Afrikaanse owerhede hulself sal weerhou van enige optrede om die inwerkingstelling van die Boerevolk se selfbeskikkingsreg te verydel, met spesifieke verwysing na die vervreemding van grondgebied wat kollektief aan die Boerevolk en indiwidueel aan sy lede behoort 

Artikel 8

Die Boerevolk aanvaar as uitgangspunt dat die regte van die Boerevolk as geheel die omvattende en bepalende raamwerk vir die indiwiduele regte van alle persone behorende tot hierdie groep en wonende in hul vrye staat, uitmaak 

Artikel 9

Die Boerevolk verwerp kategories alle totalitaristiese, neo-kolonialistiese en rassistiese aansprake waarvolgens die onderskeie gesagstrukture van die Suid-Afrikaanse eenheidstaat (wetgewend, uitvoerend, regsplegend, ens.) oor die Boerevolk probeer regeer, en sal in weerwil daarvan sy eie staatstrukture vir selfregering oprig

Artikel 10

Die Boerevolk verwerp die eensydige verknegting van die Boerevolk tot ’n rasgeklassifiseerde minderheidsgroep binne die kunsmatig verenigde Suid-Afrikaanse eenheidstaat, en verwerp enige wetgewing wat die ontmagtiging van enige lid van die Boerevolk, binne of buite die opgeëisde territorium, tot gevolg het

 Artikel 11

Die Boerevolk eis dat die natuurlike rykdom en hulpbronne binne hul grondgebied, asook die verwerking en omskakeling daarvan in enige ander batevorm, onder eie beheer sal kom en bly, wat o.m. insluit die besit en bestuur van hul eie geldstelsel, die reg op ’n eie skatkis en die hef van belastings van die burgery en maatskappye binne hul eie staat

 Artikel 12

Die Boerevolk aanvaar vreedsame naasbestaan en dialoog met alle volkere as norm ter bepaling van gesonde volkereverhoudinge, wat insluit die reg van alle groepe om in vrede te lewe, om vreedsaam hulle selfbeskikking uit te lewe, en om hulself te verdedig indien hul vryheid, vrede, voorspoed en veiligheid op enige wyse bedreig word

 Artikel 13

Die Boerevolk aanvaar die reg om vir internasionale beskerming teen die skending van die Boerevolk se volkeregtelike status en gepaardgaande regte kragtens die Volkereg aansoek te doen  

Artikel 14

Die Boerevolk eien vir homself die reg op ’n omgewingsveilige en ekologievriendelike natuuromgewing in hul eie grondgebied toe 

Artikel 15

Die Boerevolk weier die vervaardiging, toetsing, opberging, vervoer en aanwending van wapens van massavernietiging, insluitende atoom-, chemiese en bakteriologiese wapens deur vreemde state op eie grondgebied en beywer homself vir die volskaalse ontruiming van sy grondgebied van alle vreemde veiligheidsmagte 

Artikel 16

Die Boerevolk erken die reg van alle volkslede op inligting oor die beleidsrigting en –handelinge van hul owerheid, asook die deelname van die aangewese verteenwoordigers van hul staat aan subkontinentale, kontinentale en internasionale samesprekings oor die voortbestaan en regte van naburige volkere 

Artikel 17

Die Boerevolk erken die reg van volkslede om groeperings binne eie staatsverband te vorm ten einde bepaalde beginsels, beleidsrigtings en praktiese belange te bevorder, op voorwaarde dat dit deurentyd die soewereiniteit van die Boererepubliek en die integriteit van sy territorium as sodanig bevorder 

Artikel 18

Die Boerevolk pleit dat alle volkere, state en organisasies van die internasionale gemeenskap die Boerevolk se volkeregte sal eerbiedig, nakom, beskerm en bevorder ingevolge die bepalings van die Universele Verklaring oor die Regte van Volkere  

Artikel 19

Die Boerevolk verklaar plegtig sy eerbiediging van die gelykwaardige volkeregte van alle ander volkere, asook aanvaarding van die plig tot wedersydse ondersteuning en hulp, sover moontlik en wenslik – met besondere verwysing na dié regte binne die Suider- Afrikaanse gemeenskap van state 

Artikel 20

Die Boerevolk slaan ’n houding van respek vir en verdraagsaamheid teenoor alle vreemde indiwidue en volksgroepe binne die grondgebied van die Boerevolk in, met dien verstande dat dit wedersyds van aard sal wees 

Artikel 21

Die Boerevolk aanvaar die beginsel van die gelykwaardigheid van agting as algemeen geldend wat betref enige bemoeienis met ander volkere of nasies en/of hul verteenwoordigers, en wys dus religieuse, moralistiese en ideologiese onverdraagsaamheid teenoor en deur andere in beginsel af 

Artikel 22

Die Boerevolk aanvaar die vertolking van die inhoud en gees van hierdie verklaring kragtens die internasionale reg met besondere verwysing in die Volkereg na die ononderhandelbare en onvervreembare reg op die selfbeskikking van volke, asook die algemeen erkende regte van indiwidue binne eie staatsverband 

Artikel 23

Die Boerevolk verwerp alle optredes en pogings deur enige groep, organisasie of indiwidu om die regte hierin vervat, of dit wat die Boerevolk kragtens die Volkereg toekom, te skend, en eien vir homself die reg toe om homself teen sodanige skendings te verweer, met inbegrip van die aanwend van geregverdigde en aanvaarde vorme van verdediging, weerstand en protes 

Artikel 24

Die Boerevolk aanvaar as vreedsame uitgangspunt die oproep tot pligmatige verset volgens erkende Christelike beginsels as die gemeenskaplike roeping van elke lid van die Boerevolk, eien vir homself die reg tot verset teen skendings van ons kollektiewe reg as volk toe, lê homself die wil op om homself van vreemde propaganda en waardestelsels te ontkneg, aanvaar ook die plig tot selforganisasie en -mobilisasie, maar verwerp terselfdertyd terrorisme in beginsel as ’n formele beleidsrigting 

Artikel 25

Die Boerevolk verleen erkenning aan die universele belang van die Internasionale Handves van Menseregte (met inbegrip van die Universele Verklaring oor Menseregte, die Internasionale Verbond van Burgerlike en Politieke Regte, en die Internasionale Verbond van Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte

Artikel 26

Die Boerevolk bely sy vryheid van gewete, asook van geloof in die oppergesag van God as Beskikker van die lotgevalle van volkere en nasies as begrondende en finale gesag waaraan alle menslike bepalings, insluitend daardie vervat in artikel 25 hierbo, onderworpe is.

 Samestelling en verwerking: T.J.G. Louw, 10 Oktober 2004 ©


 "Die Boervolk eis nie soseer nuwe grond nie; hy eis as vertrekpunt bloot selfregering op sy reeds bestaande eiendom." Tobie Louw

Die straf vir 'n apatiese houding oor politieke aangeleenthede
is om deur bose mense regeer te word.

Plato

 

Opstal Op BOEKINLIGTING LEESSTOF BOEKPROJEKTE PRODUKTE en DIENSTE VERKLARINGS GESKRIFTE, TOESPRAKE

Ontwerp & © Incitatus  ~ Webmeester:  impromptu@telkomsa.net

Hit Counter