|
Inleidend
|
|
|
1 Inleidend Die bedoeling met hierdie boek is om bepaalde riglyne te bied vir ’n vernuwende visie op ons voortbestaan as volk. Dis gemik op almal wat hulself vereenselwig met die historiese wordingsproses, die volhardende vryheidswil en die gesamentlike toekomsverwagting van die Boerevolk van Suider-Afrika......................... lees hieronder die volledige Inleiding "Niemand
kan gelukkig wees sonder 'n vriend nie, 1 Die
bedoeling met hierdie boek is om bepaalde riglyne te bied vir ’n vernuwende
visie op ons voortbestaan as volk. Dis gemik op almal wat hulself vereenselwig
met die historiese wordingsproses, die volhardende vryheidswil en die
gesamentlike toekomsverwagting van die Boerevolk van Suider-Afrika. Dié
werk is geensins bedoel om ’n bydrae tot die openbare debat oor die
minderheidsregte van die breë Afrikanerdom binne die konteks van die Nuwe
Suid–Afrika [hiervandaan: NSA] te wees nie. Genoemde posisionering druis
immers lynreg in teen die wese van waaroor dit vir die Boerevolk gaan: die
voortgaande stryd om die herwinning van sy verlore vryheid. Heel
menslik is daar verskille en geskille wat betref die “hoe” ter bereiking van
die doelwit. Tog is daar by die Boerevolk volkome eendragtigheid oor die primêre
saak, nl. die strategiese doelwit self: volkome onafhanklikheid op eie
grondgebied. Meer as 70% van alle blanke Afrikaanssprekende mense ondersteun
hierdie gedagte in beginsel.[1] Die
teikengroep aan wie die boek gerig is, is diegene wat hulself vereenselwig met
die historiese en steeds voortgaande vryheidstrewe van die Boerevolk. Dit bevat
as ’t ware iets van alles vir iedereen, maar is bepaald toegespits op die
vraag watter regte die Boerevolk kollektief vir homself toeëien. Hierdie
gewetensaak leef immers in elke Boerehart. Wat daarmee gemaak word, is ’n
ander saak. Om hierdie rede is die boek geen meesterplan of bloudruk vir
toekomstige aksie nie, maar slegs ’n raamwerk waarbinne sodanige metodes
uitgewerk kan word. Visies
van Vryheid het in die eerste plek
ontstaan uit die behoefte om groter duidelikheid te verkry oor die
volkeregtelike posisie en status van die Boerevolk binne die huidige tydsgewrig
en omstandighede. Ofskoon die wêreld gedurende die afgelope eeu baie verander
het, was die twintigste eeu ook die een waarin die beginsel van die
selfbeskikking van volke en nasies formeel aanvaar is as die mees fundamentele
reg waarop enige volk indiwidueel (maar ook verskillende volke gesamentlik as
’n nasie) aanspraak kan maak. In wese is selfbeskikking die enigste
kollektiewe reg wat ’n volk en nasie het. Hierdie grondreg geniet tasbare
universele erkenning, alhoewel dit nie sonder probleme is nie. Indien
algemeen aanvaar word dat die Boerevolk wel, soos alle ander volke die wêreld
oor, ’n regmatige en regverdigbare aanspraak op selfbeskikking het, en te meer
nog as die Boerevolk daardie selfbeskikkingsreg vir homself toeëien en opeis,
bring dit ’n verskeidenheid vrae na vore wat ewe dwingend van aard is as
bostaande uitgangspunte. Die lysie vrae wat hier volg, put geensins sodanige
onderlinge gesprek uit nie, maar sal hopelik nuwe lewe blaas en tot vele nuwe
vrae aanleiding gee in die interne nadenke en debatte. Voorbeelde hiervan is as
volg: Is
die onderskeid tussen die Boerevolk en die breë Afrikanerdom beslissend, of is
dit bloot ’n arbitrêre en nominale kwessie? Is die Boerevolk waarlik so uniek
en anders as alle ander volke op aarde, dat begrippe en beginsels wat
internasionaal aanvaar word, op geen wyse sinvol op hom betrekking het nie?
Watter internasionale resolusies bestaan tans wat stukrag aan die Boerevolk se
historiese vryheidstrewe verleen? Watter wegwysers bied die Volkereg aan die
Boerevolk met betrekking tot die huidige dilemma rondom sy vryheidswil, nl. om
sy verlore vryheid te herwin? Bied die internasionale reg aan die Boerevolk
enige beskermingsmeganismes teen die totalitêre aanslag op sy vryheid? Is die
Boerevolk se vryheidstrewe bloot maar ’n onlangse post-1994 verskynsel van
mense wat ontevrede is met die Nuwe Suid-Afrika, of loop dit al ’n heelwat
langer pad? Het die Boerevolk op enige wyse voor 1994 ingestem om die laaste
reste van sy toe reeds slegs gedeeltelike vryheid prys te gee? Hoe voel en dink
sy lede regtig oor die dwangbuis van die Nuwe Suid-Afrika? Watter aanwysbare
regte eis die Boerevolk vir homself op? Bestaan daar énige sosiale akkoord
tussen die Boerevolk en die bewindhebbers van die NSA wat dui op ’n
aanvaarding deur die Boerevolk van vreemdelinggesag oor homself? Watter
regsargumente kan aangevoer word ter ondersteuning van die radikale verwerping
van die gesagsaanname oor die Boerevolk deur die ongetoetsde “algemene wil van
al die mense” wat skynbaar ten grondslag van die Suid-Afrikaanse eenheidstaat
lê? Hoe sien die huidige lewensomstandighede van die Boerevolk daar uit en
watter bykomstige bewysmateriaal verskaf dit om sy vryheidsargument te
ondersteun? Vrae
wat seer sekerlik van ewe bepalende aard is, maar wat buite die bestek van Visies
van Vryheid val, is o.m.: Is die verwysings uit die Volkereg te ryme met die
algemene geloofsoortuigings en –inhoude eie aan die Boerevolk? Hoe kom die
volkswil tot uitdrukking? Hoe word die volkswil gemobiliseer? Hoe kry die
volkswil beslag in ’n Wil wat algemeen aan die volk is, ofskoon uniek
ten aansien van alle vreemdelingvolke en nasies? Hoe, waar en wanneer word die
Grond vasgemaak en afgemerk waarop die Wet van die Boerevolk betrekking het?
Watter rol speel ras t.o.v. volkskap? Die inhoudsopgawe verklap reeds
dat ’n aantal van bostaande vrae aangepak word. By die lees van die
indiwiduele stukke behoort dit gou duidelik te word dat daar ook verskeie
self-kritiese vrae gestel moet word oor wie en wat ons wil wees, en waarom! Dit
ly na ons mening geen twyfel nie dat die Boerevolk as geheel, maar ook
ten opsigte van al sy lede, sedert 1994 toenemend gekonfronteer is met ’n
situasie waarin elke oorblywende aspek van sy vryheid finaal en beslissend
vernietig word. Dit word tans langs beide sg. “wetlike” én kriminele weë
uitgevoer. Menige onder ons sien lg. twee as vinkel en koljander. Die sg.
“wetlikheid” van byvoorbeeld die grondroofprogram[2]
(amptelik: grondherstelprogram) en die plaasterrorisme[3]
(moorde op kommersiële landbouers) wat plaasvind vanweë die nalatigheid van
’n staat wat nie ons veiligheid kan, wil of probeer waarborg nie, word juis
radikaal bevraagteken: Dis alles immers deel van ’n bestel wat, volgens die
beskouing van die Boerevolk, in die eerste plek onregmatig tot stand gekom het
en wat in die tweede plek deurgaans bevreemdend ten aansien van en beslis
vyandig teenoor hierdie volk gesind is. Ons weet tenminste dat dit ’n saak van
pure onmoontlikheid is dat ’n selferkende aartsvyand ooit gewilliglik deur die
regeerde aanvaar kan word om die rol van soewerein te vervul! Die
verskillende afdelings van Visies van Vryheid word in die 7de
hoofstuk saamgetrek in ’n beknopte beskrywing van ’n aantal kerngedagtes
rondom die volkeregtelike posisie van die Boerevolk. Die titel daarvan is
“Handves van die Regte van die Boerevolk”. Dit weerspieël ’n standpunt
wat die minimum vereistes vir die vryheidspad uiteensit. Dit word aangevul deur
’n meer volledige uiteensetting van die volkeregtelike pad in die 9de
hoofstuk: “Boerevolk, Quo Vadis?” Wat dit nuut maak, is die feit dat
dit uitdrukking gee aan ’n nuwe selfverstaan. Lg. is geskoei op beginsels wat
internasionaal aanvaar word – in teenstelling met die tradisioneel
selfgenoegsame uitgangspunt waarin die Boerevolk as ’t ware die hele
‘beskaafde’ (?) buitewêreld ad infinitum die stryd bly aansê.
Hierdie oorwegings wys ook vooruit na die opstel van ’n Vryheidsmanifes
vir die Boerevolk waaruit sy lede elke uur van die dag en nag krag en
versterking kan put. Sodanige stukke is en bly egter, na ons mening, aanvullend
tot die bestaande Volksbelydenis en –voorneme, wat hierin as die 8ste
hoofstuk gepubliseer word. Wat
beteken die Handves van Regte van die Boerevolk prakties? Kennis is mag.
Dis daarom van groot belang om daarop te let dat die Suid-Afrikaanse owerheid
bykans elke Reg in daardie Handves oortree, en hom dienooreenkomstig skuldig
maak aan ’n reeks groteske oortredings van verskeie kernbepalings van die
Volkereg. Dit verskaf aan die Boerevolk bykomende skietgoed om sy saak voor
internasionale liggame aanhangig te maak in ’n taal wat vir die internasionale
media begryplik is. Ons vryheidstrewe kom ’n lang pad, en is nie in die eerste
plek gebaseer op reaksie teen die kwade van die oomblik nie: oftewel verset teen
’n rassistiese en onderdrukkende regime wat sy klaarblyklike magsug teen alle
redelikheid in en sonder inagneming van die vryheidswil van die Boerevolk, op
hom as volk afdwing. Dat
die Boerevolk in 1994, direk in stryd met sy historiese vryheidswil, ingedwing
is in ’n staatsbestel waarin prakties alle seggenskap oor eie sake ontneem is
en steeds ontsê word, is slegs olie op sy vuur. Visies van Vryheid is
daarenteen ’n herbevestiging van ons primêre motief: ons is onbeskaamd
pro-Boer en gaan derhalwe voort om voorrang aan hierdie belang te gee; eerder as
om die bevordering van ons belange op ’n negerende houding van
anti-vreemdelingskap te probeer baseer. Verre
daarvan om met genoemde Handves die internasionale menseregtekultuur te omarm,
is dit veel eerder ’n aanvulling tot die geloofsinhoude wat tradisioneel eie
aan die Boerevolk is. Die kern van die Handves van verklaarde regte is
eintlik ’n onuitgesproke Hartves van ons diepste versugtinge. Sien ook
die Volksbelydenis en Voorneme in lg. opsig. Die
Kulturele Geregtigheidstigting [hiervandaan: KGS] gee geensins voor om die
laaste woord oor dié volk se vryheidsliefde uit te spreek nie. Hierdie bydrae
is ’n opregte poging om die diepste strewes van die Boerevolk op ’n nuwe
wyse te verwoord. As sodanig is dit, net soos talle ander pogings, ’n
aanvullende daad van verset teen verknegting en negering, maar bly dit in die
eerste en laaste plek ’n herkonstatering en herbevestiging van die Boerevolk
se historiese vryheidswil. Die
verblydendste aspek rondom die gedagtes wat in hierdie boek vervat is, is die
spontane kommentaar van sovele mense oral in die land – jonk en oud – met
wie ons hieroor in gesprek tree: “Maar ek herken myself, soos wat julle nou
praat, as ’n lid van hierdie volk, die Boerevolk!” Dít dui ongetwyfeld op
’n spontane herlewing van die Vrye Republikeinse ideaal. Dieselfde
ideaal het op 20 Julie 1940 die vonk onder die Boerevolk verskaf om in een groot
massa na Bloemfontein op te trek vir ’n vurige monstervergadering. Ongeveer 70
000 volkslede uit alle uithoeke van die land het hulself, ongeag groot
persoonlike en finansiële opofferinge, tot die republikeinse ideaal herverbind.
Wat het hulle geëis? Die herstel van hul eie Boererepublieke. Toe die destydse
leiers van die volk (Genl. Hertzog, Dr. Malan en ander) nog bly talm het om
uitsluitsel oor die republikeinse strewe te gee, het die volk self aan hulle die
opdrag gegee: Gee daadwerklik uitvoering aan hierdie eendragtelike vryheidswil
van ons volk! Wat die saak betref, kan niemand op twee stoele gelyk sit nie.
Voor die byeenkoms het Adv. Strijdom die houding van die republikeinsgesindes so
vertolk: “Die
wat nie vir ons is nie, is teen ons, en diegene wat nie ten gunste van ’n
republiek is nie, is vir die handhawing van die Britse konneksie.”
[4] Benewens
die vanselfsprekende rede vir die verskyning van hierdie boek – t.w. om ’n
bepaalde visie te bied ter verheldering en ondersteuning van die Boerevolk se
voortgaande historiese selfbeskikkingstryd – dien dit ook ’n verdere doel.
Soos sovele soortgelyke pogings is Visies van Vryheid ook ’n protesskrywe
teen die voortdurende onreg wat tans teen die Boerevolk gepleeg word.
Daarbenewens kan dit ook gesien word as deel van die magdom opbouende
bewysmateriaal ter ondersteuning van die vryheidsaak. So verseker ons dat
hierdie geslag van ons volk nie sonder protes verby sal gaan nie. Of ons dit nou
wil weet of nie, ons protes verplig ons terselfdertyd om ook die hand in eie
boesem te steek. Ons
as Boerevolk glo dat ons onsself nie vir ons verlede hoef te skaam nie. Ons
teken aan niemand verskoning aan vir die verlede nie. Ons val ook nie vir die
valse skuldgevoel wat verloopte Afrikanerleiers, ekstremistiese linksgesindes en
die selfverrykende kommunisteleiers aan ons probeer opdring nie. Ons vra geen
vreemdeling toestemming vir die uitlewe van ons selfbeskikkingsreg nie en die
voorbereiding van ’n vrye toekoms vir onsself en ons nageslagte. Ons
geloof en hoop is dat hierdie werk aan iedereen vir wie hierdie saak na aan die
hart lê, die nodige aanmoediging sal verskaf om aktief saam te werk sodat die
historiese vryheidstrewe van die Boerevolk opnuut volle wasdom bereik. Die
Vryheidsvlag sal weer wapper! Hiermee
bedank ek graag alle medewerkers van ganser harte. Tobie Louw Pretoria en Oos-Kaap, 2005 [1]
Op p. 19 van Rapport van 6 November 2005, stel Prof. Schlemmer die
steun vir erkenning van die behoefte aan “beskerming as groep” op 80%. [2]
Die omvatende skelmstreek onderliggend aan die grondkwessie word sistematies
met een gevallestudie na die ander uitgewys in die boek van Dr. Philip du
Toit van 2004 getiteld: The Great South African Land Scam. Legacy
Publications, Centurion. [3]
Sien Prof. Neels Moolman se uitvoerige behandeling van hierdie onderwerp in S.A.’s
Farm Attacks and the African Renaissance. [4]
Sien Die Ster van 9 Oktober 1970, pp. 42-47. Ons kan dit vandag beaam
en verklaar: "Die wat nie vir die onafhanklike Boererepubliek is nie,
is vir die onregmatige handhawing van die oorheersing van die Boerevolk deur
die ANC/SAKP in die Nuwe Suid–Afrika."
|
|
Ontwerp & © Incitatus ~ Webmeester: impromptu@telkomsa.net
|