Regsargumente    

Opstal
BOEKinfo
incitatus
voorblad+
oorwegings
inhoudsopgawe
inleidend
wat nou?
belydenis
aanhalings
VOLKEREG
Regsargumente
KGS Mandaat
Quo Vadis?
HANDVES

English home

"Regsargumente rondom Vryheid"

Wat betref die betoog (Paul Kruger: Spesiale Pleit Augustus 2003) wat gevoer is in die voortgaande hoogverraadhofsaak [sg. "Boeremagsaak"], het vier spesifieke argumente ter sprake gekom ter ondersteuning van die pleit namens 13 van die betrokke beskuldigdes. Alhoewel die argumente in baie spesifieke omstandighede geopper is, is dit na ons mening óók algemeen van krag: Dieselfde argumente geld immers t.o.v. die verwerping van die regmatigheid van die huidige regeringsgesag as sodanig deur die Boerevolk as onderskeibare en self–onderskeide volksgroep!

Die onderafdelings van hierdie argument word agtereenvolgens aangebied as die gemeneregbetoog, die mandaatbetoog, die kieswetbetoog en die verkiesingsgeldigheids-betoog. Let daarop dat slegs die opsomming van die betoog, soos wat dit van bladsye 9-11 in die drukstuk verskyn, hier weergegee word. ’n Ondersteunende stel aanhangsels van ongeveer 400 bladsye bewysmateriaal begelei die 36 bladsye van die Spesiale Pleit. Die inhoud soos bevat in afdelings 7.1-7.4 van die Spesiale Pleit word hier weergegee.

 [Gemeneregbetoog]  

“7.1      Die Republiek van Suid-Afrika, en vroeër die Unie van Suid-Afrika, was vanaf 31 Mei 1910 tot 27 April 1994 onderhewig aan die Britse Gemenereg ten aansien van staatsregtelike regskwessies en die tersaaklike Suid-Afrikaanse Regerings kon nie kontra die Britse Gemenereg optree, in soverre laasgenoemde nie deur statutêre Reg gewysig was nie. Die Britse Gemenereg bevat ’n stelreël wat nie deur ’n Parlement geminag kan word ie; naamlik “Freedom once conferred cannot be taken away”. Die submissie is dat dit hier om de facto vryheid by wyse van selfbeskikking gaan eerder as oor nominale vryheid; voorts dat hierdie stelreël onregmatig in die oorgang na ’n nuwe grondwetlike bedeling geskend is.”

[Mandaatbetoog]

 “7.2      Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 110 van 1983, het amptelik voortbestaan as ’n geldende reg en Grondwet vanaf 3 September 1984 tot 27 April 1994 (volgens die inwerkingtredingsdatum in Artikel 251 van die Oorgangsgrondwet, Aanhangsel “PK6” hiertoe). Geen wetgewing kon tussen 3 September 1984 en 27 April 1994 geldiglik deur die Parlement aangeneem gewees het wat met voorgenoemde Grondwet gebots het terwyl dit bestaan het nie – die Agbare Hof word weer verwys na “The Law and the Constitution” supra: “A written constitution is …. the fundamental Law of a country…” Desondanks het die Parlement wel sodanige botsende, en dus ongeldige, grondwet-verwante wetgewing aangeneem in die relevante periode, soos uiteengesit in Paragraaf 11 hieronder.”

 [Kieswetbetoog]

 “7.3      Die “vrye mandaatsteorie” van verteenwoordiging soos voorheen in die Suid-Afrikaanse Staatsreg geldend, was teen die aanname van Wet 200 van 1993, nie meer geldig spesifiek ten opsigte van grondwetgewende wetgewing nie (soos verder uiteengesit hieronder). Gevolglik was die Wetgewende Gesag se bevoegdheid om grondwetgewende wetgewing aan te neem, opgeskort. Die tersaaklike Parlement het egter onregmatiglik en strydig tot voormelde regsposisie gehandel soos verder uiteengesit in Paragraaf 8 en 9 hieronder.”

 [Verkiesingsbetoog]

“7.4      Die huidige Grondwet is aangeneem deur die post-1994 Parlement sittende as ’n Grondwetlike Vergadering. Die samestelling van laasgenoemde is bepaal deur die verkiesingsuitslae van 26-28 April 1994. Onakkurate verkiesingsuitslae sou noodwendig lei tot ’n onakkurate samestelling van die Grondwetlike Vergadering betreffende die aantal lede van verskillende partye in die genoemde Grondwetlike Vergadering. Die noodwendige effek is dat die huidige Grondwet anders daar uitsien as wat hy sou gelui het in geval van akkurate verkiesingsuitslae.”        [einde aanhaling]

 Om op te som: daar is verskeie omstandighede waaronder met reg beweer kan word dat ’n bepaalde owerheid die regsgeldigheid kortkom om sy staatsgesag op almal teen wil en dank af te dwing, veral waar dit slegs onder dwang en dreigement van omvattende strafmaatreëls geskied. Tans bestaan die situasie dat vanweë die ANC-regering se mislukking op vele terreine om effektief te regeer, die selfbeskikkingsreg outomaties teruggaan na “die mense”. Dit geld des te meer t.a.v. die Boerevolk, wat as geheel gesien moet word en nie bloot as losse indiwidue wat bepaalde voor- en afkeure huldig nie. In sy mees eenvoudige vorm is die vraag: Wat (eintlik WIE) gee die huidige regering die Reg om oor die Boerevolk te regeer? In soverre onder “Reg” die klassieke grondwetlike vryheidsbeginsel verstaan word (wat lui dat elkeen slegs daardie Wet hoef te gehoorsaam waartoe hy self ingestem het – waar “hy” in hierdie geval die Boerevolk is!), het die ANC-regime – of wie ook al in die regeringskussings sit – géén reg wat o.g.v. die instemming van die Boerevolk verkry is, om oor hierdie volk te regeer nie.

 Die groot wins van die Spesiale Pleit is dat dit gevoer is op objektiewe regsgronde, teenoor bloot ’n stuk politieke retoriek, soos wat die geval tydens die Rivonia-verhoor van die sestigerjare was. Die Spesiale Pleit toon duidelik aan dat die post-1994 bedeling in fatale skending met die Gemeneregbeginsel verkeer, nl. dat die vryheid wat alreeds vir eeue deur die Boerevolk (al is dit later met ander volke in ’n houdbare verhouding gedeel) geniet is, eensydig vernietig is. Verder is duidelik aangetoon dat die aanneem van wetgewing wat die magsoorgawe ’n sweem van “wettigheid” gegee het, in direkte botsing met die bestaande grondwetlike beperkings was, en dat die magsoorgawe dus op onaanvaarbare regsgronde plaasgevind het. Dit ly voorts ook geen twyfel nie dat die De Klerk-regering direk in stryd met die mandaatbeginsel opgetree het, deurdat sy party (as regerende party) en die parlement sélf die normale vrye mandaat opgeskort het en hulself daarmee onder strenge verpligting geplaas het om die inhoude van wesenlike grondwetlike wysiginsvoorstelle na die blanke kiesers terug te neem vir goed– of afkeuring alvorens enige daarvan in werking gestel word. Dit het nooit gebeur nie. Laastens is dit duidelik dat die omvattende verkiesingsbedrog wat orals in 1994 kop uitgesteek het (sodat De Klerk selfs in sy outobiografie erken het dat hy as destydse staatshoof genoeg gronde gehad het om die hele verkiesing ongeldig te verklaar!), die samestelling van die Grondwetlike Vergadering so eensydig na een party laat oorhel het, dat dit meegebring het dat ’n Grondwet aanvaar is wat duidelik sou lei – en dit inderdaad steeds doen – tot die sistematiese stroping van alle vorme van selfseggenskap van die blankes in die algemeen, en die Boerevolk in die besonder, wat in stryd is met die beginsels waarvolgens vooraf blykbaar in goeder trou onderhandel is.

 

Opstal Op BOEKINLIGTING LEESSTOF BOEKPROJEKTE PRODUKTE en DIENSTE VERKLARINGS GESKRIFTE, TOESPRAKE

Ontwerp & © Incitatus  ~ Webmeester:  impromptu@telkomsa.net

Hit Counter