|
Volklose volksleiers
|
|
|
‘n Gelykenis — van VOLKLOSE VOLKSLEIERS ‘n Satire deur Brolloks
IN SUID-AFRIKA is daar sedert 1990 ‘n groep wat hulself die politieke- en of volksleiers van die Afrikaner- en of Boere Afrikaner- of Afrikanervolk genoem het. (Die Boervolk self, is leierloos, wagtende op ‘n man in ‘n bruin pak klere. Sela).En daar was baie mense wat hulself as deel van hierdie volkopset beskou het. Inderwaarheid was hulle sowat 1-miljoen (?) in getal wat die Boervolk betref en die res Cape Dutch Afrikaners, maar almal was na afloop van daai gewraakte een-man-een-stem verkiesing van 1994 rigtingloos en herderloos. FW (Future Worries) de Klerk het voor die 1988-verkiesing belowe: “As u NP stem, stem u vir ’n eie gemeenskapslewe, afsonderlike woongebiede, afsonderlike skole, eie wetgewende liggame en afsonderlike kieserslyste, sodat een groep nie ’n ander kan oorheers nie.” So mooi was hierdie woorde dat die meeste dit geglo het. Tydens die eerste plaaslike verkiesings in November 1995, verskyn reuse plakkate van Future Worries op straat met onderaan sy foto: “’n Man van sy Woord.” So wragtag! Op 26 November 1995 word Future Worries by sy foto in ’n advertensie in ’n feesbylae in Rapport aangehaal: “Deesdae word baie beloftes gemaak, maar die vraag bly steeds: word dit nagekom of is dit net leë woorde? “Ons toekoms hang van meer af as net beloftes. Dit hang af van die beloftes wat nagekom word. Die Nasionale Party kom sy beloftes na. Ons het dit bewys. Ons het belowe om verandering teweeg te bring, en ons het. Nou maak ons die verskil. “Uiteindelik is die keuse u s’n. U moet besluit wie kan presteer. Kyk na ons prestasies in die verlede, en die besluit is logies.” Like hell! Or even a pity. Destroyed by Freud? Voor hierdie beloftes moes almal hoor van wigte en teenwigte en die een verskansing op die ander. Wat was verskans? Later hoor ons van Griekse magnate en seereise, maar die helfte is ons nimmer vertel. Dit was so deeglik verskans dat ons nie eers die onderrok sien uithang het nie. Ten spyte van alles, egter, ploeter die Boerevolk voort sonder heenkome, in twis en tweedrag, in huigelary en geveinsdheid. En leuens daarby! Bykans honderd organisasies en bewegings bestaan reeds – wat elk hoog opgee dat hulle die antwoord vir die vryheid van die volk in pag het. Hou dop, nog nuwes sal gestig word. Dit versprei soos die voëlgriep. En die Afrikaners neuk met Afrikaanses, Klein Karoo gelapte feeste, steeds in ‘n maalkolk van stille water, diepe grond en onder hol die duiwel rond. In Boervolk-geledere is dit ietwat anders. Week na week, maand na maand, en jaar na jaar het die volks- en politieke leiers hulself onderskei in privaat gesprekke, om vleisbraaivure, in komitee- en openbare vergaderings as Boere, as Afrikaners, as Boere-Afrikaners, as Afrikaner-boere. Selfs op Kerkplein in Pretoria is met geweld gedreig, en oom Paul betreur dit steeds en Andries treur nicht. By al hierdie vermelde geleenthede het hulle dan vertel hoe hulle ’n volk in eie reg is, hoe hulle hulself wil regeer binne ’n eie grondgebied. Ook het hulle hoog opgegee oor waar die grondgebied is, of behoort te wees. Was die agenda nie maar net ‘n plek in die groen banke nie? Jaar na jaar, sedert die vervorming en hervorming sy loop begin neem het, tesame met magsdeling en magsverdeling, eers onder PW (Past Worries) and daarna Future Worries het hulle hulself as volk verdedig. Om saak te maak is die Gelofte bygesleep, en kultuur, en taal en Godsdiens, wat meestal uitgeloop het op ’n gekuif om ’n vleisbraaivuur waar die een ’n groter volksman as die ander was — Darem nie altyd nie, die res was pity parties. Van drank en baie dinge weet hulle alles, van die politiek bitter min. Van die volk nog minder. Een komitee na die ander is aangewys. Een beweging na die ander is gestig. (Hulle stig wraggies nog steeds nuwe organisasies). Almal was dit deurentyd eens: Ons is ’n volk en ’n volk moet homself regeer. Een slagspreuk na die ander is bedink om hul vryheid te verkry, so ook die een volksprogram na die ander, alles suksesvolle mislukkings. Dan kry die Illuminati die skuld, dan die Geldmag, dan die Yanks, dan die Jode, almal, behalwe hulleself. Man, as daar fout kom, sê hulle: Blame it on the conspiracy! Keer op keer moes die volk die een saak na die ander borg, selfs te stigte koerante en sukkelende radiostasies, want al hierdie dinge was nodig want die volk moes sy vryheid verkry, veral ernstig daar van 1985 af. Kongresse is gehou, so ook dinkskrums, en selfs sogenaamde bosberade, om die volk se saak te bevorder tesame met verskeie soorte strategieë en planne van, dan eendragtigheid en dan volkseenheid. En dan: Aaag man, vergeet van julle almal, kom ons gaan lê in die loopgrawe! Die volkseenheid het selfs uitgeloop op die swanesang van ’n Ballade vir ’n Enkeling in die reënboog-parlement. En Kaspaas stig sommer sy eie veelparty-regering, van ’n Afrikaner Eenman Beweging (AEB) tot by ’n Nasionale Aksie. Deur die geskiedenis had elke parlement maar sy nar. Nou’s hy terug op die preekstoel: Want ‘n volk is verlore. Helaas, want as die HERE die huis nie bou nie, bou almal tevergeefs. Daar was die Konsternasie Party, en die Verloor Front Party, en steeds is daar die Hoop Nog Party. En moenie vergeet van die Sukkeltariaat nie – na nege jaar se gesukkel hang ook hy oor die politieke afgrond. Ai toggie. En dan is daar Afrial wat met sy pluraliteit ook die Bruinman op die wa wil kry – ‘n belediging vir die intellek van die Bruinmense. Afrial trek weg met ‘n wa sonder politieke wiele en nou hoop hy om die volk se onderwys en godsdiens re red. En dan is daar die Konfederale Forum van Daantjie Testosteroon en Johannes Lostgard. En dan is daar die VF+ Plus wat — en dit nogal voor die kinders! En ook ‘n VF++ alliansie met ‘n nuwe wanhopige slagkreet: Vergroot die opposisie! Om te wat? Almal gee hoog op vir die vryheid van die volk – kongresse op kongresse, komitees vir elke denkbare ding, tot ’n Volksrepubliek Werklosekomitee wat die nuwe Boere-volksregering jota en tittel uitgestippel het, maar van inpresteer het daar niks gekom nie. Maar die volk moet vry en soewerein in sy eie grondgebied wees en dit het net nog meer komitees en vergaderings tot gevolg – tot vervelens toe. En hulle onderhandel, maand na maand, jaar na jaar met hulle hoede so in hulle oë getrek, dat hulle nie kan sien hoe hulle ore aangesit word nie, nes Siener van Rensburg voorspel het — arme Siener. Daar word selfs aan verkiesings deelgeneem want die volk moet sy vryheid hê. Selfs die Liewe Here word onskuldig by die ding ingesleep oor wat Hy kwansuis sou gesê het of nie gesê het nie, oor verkiesings-deelname en dergelike. Intussen wil sommige weet waarom net sekeres ’n heavenly hotline mag hê en ander nie? En ’n paar sonder ’n volksmandaat sien die parlementêre groenbanke as hul eie volkstaat. Haito potato! Behalwe vir gereelde vergaderings, waar ook net sekeres van faam en inbors toegelaat word – almal snobistiese politieke splinters – is afgevaardigdes ook oorsee gestuur om daar te gaan leer hoe ’n volk vry en soewerein kan word. Maar die volks- en politieke leiers bly dit eens dat wat nodig is, is ’n raad, ’n verteenwoordigende liggaam wat aan die volk kan wys hoe word ’n volk vry. Sela! Op Kerkplein in Pretoria sit ‘n beskonke voosgeslane wit boemelaer en skreeu: “Ek’s Boer, ek’s ‘n Boer!” Dan is daar ‘n Tussentydse Afrikanerverraad en aan Boere-kant ‘n Federale Boerevoos Raad. En nou? Aan Afrikanerkant is daar ’n Federasie van Afrikaner Kultuur-versplinteringe (FAK), en ’n Praag – en jou werklikwaar ewe traag, Al weer vergaderings en komitees en so waaragtig weer oorsese reise. Daar’s ook ‘n Konfederale Afrikaner Forum. Watse KAF tog! Met tyd wil dit blyk, sien Praag rooi en skop sy eerste stof op. Almal dink, hier kom dalk tog ’n ding. Hou dop. Nie net het oupa se Vaaljapie makliker gevat nie, die trekkertjie loop vandag nog. ‘n Groep van 63 bulk en die skote klap – en minder as ‘n Toyota bakkie laat hulle die aftog blaas. Daar’s ook ‘n Afrikanerbont en ‘n Rapportstryers. Die agenda weet niemand nie want: Van het consert des levens krijg niemand een program, en van de politiek nogt minder. Intussen moet Afrikaner eenkant toe en Boer anderkant toe, maar die vergaderings en webblaaie duur ongenaakbaar voort want die vryheid van die volk moet bekom word. Daar is uitsprake vir verskeie wit volkstate – as dit waar sou word had ons ’n sprokiesagtige flentergatland – om te keer dat voëlgriep en politieke bek-en-klouseer oor die grense gaan. ’n Droomstaat vir Casper die Spook – uitsprake oor groeigebiede, en uitsprake vir Griek, Jood en Mohammedaan, solank hulle net Afrikaans is; ja, dan kan die volk só sy vryheid met selfbestuiwing kry – hy moet net Afriaans kan praat, sulke Afriaans dat selfs die woordboek-redakteurs spartel om by te hou. Ons skop die taal oop, sê hulle. Ellende op ellende! Sela, So duur die prosesse voort, met die volk wat verval in so ’n diep donker put van gal met volksleiers en politieke leiers wat steeds vergaderings hou, kongresse reël, konsultante gebruik, plaaslik en van oorsee, almal spitsgerig op volkskap en staatkundige ontwikkeling — so asof die volk belang sou stel. Van tyd tot tyd word personeel aangestel, nuwe kantore gehuur, nuwe rade gestig, word die volk se reg tot selfregering in die vorm van grondgebied en kuberruim volkstate, en te stigte Afrikanerrade en Gemeenskapsrade, in die vooruitsig gestel. Die jongste is, glo dit of nie, ‘n virtuele volkstaat. (Al van virtuele babas gehoor?). Die jongste is ’n Kubus Party, vol gekleurde blokkies – ’n opgradering vanaf melkkultuur! En dit so asof niemand kan onthou hoe dêm moeilik dit was om daai blokkie se kleure in reguit rye op alkant-selfkant oppervlaktes te draai nie. Ook hulle sal verlief moes neem met ’n onklaar(Kaapse)ding. Dan is daar die manne wat uniform dra en nie uniform dra nie, maar geluide maak van oorlog, want die volk moet vry kom en homself soewerein regeer. Ook hierdie leiers hou die een vergadering na die ander, bosberade, volkskongresse, want ook hulle werk aan planne vir die vryheid van die volk in ’n ware “Boerestaat”. Hulle verdeel so in selle dat selfs ’n bye-koningin nie sal weet waar om haar eiers te lê nie – totdat een (soos nog elke keer) hulle weggee. Ander was so goed bewapen en opgelei dat hulle met hulle eie wapens doodgeskiet is, sommer teregstelling-styl boonop. En die boere die kla en die moorde gaan voort, net omdat die boere nie wil leer om eerste te draw nie. Jammer daar is so min Westerns deesdase op die TV – die boere sou veel van draw daaruit kon leer. Feit is, as jy wil oorleef moet jy eerste kan draw.. Maar jaar na jaar gaan die opleiding en die vergaderings voort om die volk te bemagtig, polities en ekonomies, word die gegradueerdes ingespan en in die leierskorps word net die elite toegelaat. Hulle is die mense wat beste weet hoe om jaar na jaar die pot aan die kook te hou, terwyl die volk lank reeds politiek voos is. Broeders krap nog steeds mekaar se rug en baantjies is net vir boeties. Die Afrikaner Broederbond word die Afrikanerbont en die wegbrekers se Toekomsgesprek word die Volksbond – alles net nuwe etikette vir dieselfde sameswerings.... uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan. Die volk probeer ook ’n stuiwer in die armbeurs kry. Die meeste sommer net bok-bedinges — soos die plakkate by die rugbytoetse tereg lees! Sommige spandeer groot geld, hulle reis landwyd, ook na verre lande, bekyk die volkereg, die VN-resolusies en -Konvensies, die weë van die voorvaders en loof die voorvaders vir hulle mannemoed, hulle leeuemoed. Dis so maklik om oor gister te praat, maar té min besef dat daar meer glas in die voorruit is as in die truspieëltjie. Selfs manne in bruin pakke klere doem oral op. En ‘n verliefde Boer skryf aan ‘n meisie wat hom nie wil ken nie: Snags sit ek teen die nag se donkerhang, sonder slaap, en wag vir jou … It’s a free country! Elke ou het die reg om ‘n aap van homself te maak! In Pretoria ontstaan die TAR (Tussentydse Afrikaner Raad). Dié is in ‘n hiberneringsfase. Kom daar dalk ‘n paar bere te voorskyn? Die Volk wag spanning. Ander sien gesigte, het gereelde ontmoetings met Marsmannetjies en Siener en praat suiwer strooi in die middernagtelike ure. Profesieë en drome is volop en daarby die fout om dit te wil in presteer. Op die horison wink ‘n Boerevolk-verkiesing. Is dit net nog ‘n hersenskim, of gaan dit die broodnodige eendrag voortbring? Drukwerk word ingespan, blaadjies en boekies en pamflette en ’n koerantjie of twee: Twin Savers het meer waarde. Alles word aangewend vir die volk en sy vryheidstryd, sy volkstaat in die kuberruim. Oral en op baie wyses word die volk aangemoedig om ’n volk te wees en hulself soewerein te regeer. Geheime vergaderings word gehou. Skedules en een strategie na die ander word beplan. Maar soos jaar na jaar, kom die leiers nie een tree nader aan ’n volkstaat vir ’n eie volk nie. Net die beursies bult dikker want die volk se laaste sent word getap. Hulle reis weer na verre lande. Hulle gaan kyk hoe het ander ’n volk geword en soewereine regering verkry. Maar steeds kry hulle nie ’n eie soewereine staat aan die gang nie. Reis op reis, komitee op komitee, vergadering op vergadering. Maskas, mens sou sweer hulle is al aan’t regere. Hulle is so besig dat hulle nie agterkom dat die volk lank reeds nie meer die leiers steun nie. Was hulle ooit leiers? Ons sit met volkslose volksleiers. Dis al! Die ware Boereleier het nog nie opgestaan nie. Eenvoudig: want dis ’n Godsbesluit, sê die mense wat weet. ’n Paar man spring op ’n dag uit..... en begin die staat langs die Oranjerivier te bou. Enkele jare later het hulle reeds 35 maatskappye wat glo daar floreer. Mense – so 600 plus van hulle – trek traag daarheen want dis mos in die woestyn. (Is Kimberley en Upington dan nie ook in die woestyn nie?) En die leiers kyk na die spulletjie en besluit nee, dit is nie wat ons vir die volk wil gee nie. En steeds laai hulle meer geleerdes op die volkstaatwa want hulle sal tog bereik wat hulle wil bereik. Nogtans is die die salarisse goed. Maar al wat van die Orania poging kom... is ’n glorieryke kibboetsim. Hoekom? Want die potensiaal word heeltemal onderskat. Intussen word ook die selfbeskikkingswa ingespan want wie weet, dalk moet ’n staat binne ’n staat begin word, maar die arme osse het politieke bek-en-klouseer. Daar is ook planne om ‘n kerk binne die kerk te begin, ‘n konvent. Hulle het nog nie geleer dat mens nie nuwe wyn in ou sakke gooi nie! En dan is daar diegene wat ‘n ekonomie binne die ekonomie wil begin want hulle wil nie langer in Babilon woon nie — nog ‘n ballon wat gaan bars! En die leierskorps raak ouer, maar hulle duld nie die jongmanne in hulle geledere nie. Die jongmanne sal die waens omgooi, word geglo. Intussen geniet die ringkoppe die reis na nêrens op pad na die afgrond..... Going nowhere slowly... Al hierdie dinge gebeur sonder dat die volk in die saak geken word. Daar is ook geen werkbare plan wat voor die volk gelê kan word nie. Die leiers het eintlik hulle kanse verspeel. Hulle moet liewer van die volkswa afklim. Want hoe kan leiers verklaar dat hulle die volk lei as hulle niks vir die volk bereik nie, omdat die volk hulle nie eers verkies het nie en die wat stemme gekry het nie eers ’n mandaat het nie, en dit ten spyte van die VN Resolusies, die Volkereg en die plaaslike grondwet se oop deure. (Intussen het die Jood met die stemme weggeloop). Nogtans sê Schlemmer sy peilings toon dat 80% van die volk daarvoor sit en wag. Sela! En die Jood trek hardekwas: As julle nie met my saamstem nie, vat julle goed en loop. Nogal! Want intussen is die NP/NNP vernietig, beloftes en al. Die ANC is dalk ’n veiliger hawe. Skielik word van ‘n nuwe opposisie koalisie gepraat – nog ‘n politieke piesangskil! Hoe kan hulle beweer hulle lei wanneer die volk nie deur hulle gelei wil wees nie, wanneer die volkswil nie getoets word nie? Wanneer die volk in casino’s vergader en lotto speel, suip en met skelmpies tussen die lakens vroetel? Wie kan hulle volg as hulle nou nog niks bereik het nie? En dan toon die jongste peiling dat die volk politiek-voos is en nie weer wil gaan stem nie. Hulle sê: om te stem is soos ‘n roepende in die woestyn... Leiers wat nog nie een tree nader aan ’n eie staat vir die volk gevorder het nie, is lank reeds volkslose leiers, en self besef hulle nie dat hulle, net soos die koning, nie klere aan had nie! Almal hol soos blindes in ‘n politieke woestyn rond. En die grondwet en die Volkereg wag vir ‘n volksverkiesing en die aanwys van ‘n Volksgesagsliggaam. Maar helaas... Soos Bittergal sou sê: Van die konsert van die lewe kry niemand ‘n program nie — en van die politiek, nog minder. Iemand slaan dalk die spyker op die kop : Die Boerevolk sal eers gered word wanneer hy gered is uit die hande van diegene wat hom nou probeer red. Viva! |
|
Ontwerp & © Incitatus ~ Webmeester: impromptu@telkomsa.net
|